Saterdag 21 Januarie 2017

Kroeggeveg

Displaying FB_IMG_1484923777492.jpg

Kroeg geveg

Ek geniet dit om mense se kommentaar op sosiale media te lees.  Dis vir my ‘n ander vorm van “People watching”.  Iets wat ek ook nog altyd geniet.  Die Here het ons so wonderlik verskillend gemaak, maar partykeer sukkel ek ‘n bietjie om “die liefde glo alles, hoop alles, bedek alles” te leef.  Die lewe is redelik wit of swart vir my.  So dan moet ek harder werk om die verskille te waardeer.  Ek snap nie altyd mense se motiverings om stupid goed aan te vang nie.  Dan rol ek my oë in die stillegeit of skinder by my ma of kinders oor die wildvreemdeling wat stupid goed aan vang.  Ek het ook ‘n vriendin of twee by wie ek oor ‘n glas wyn kan afpak.  Dan lag ons lekker of werk onsself bietjie op oor mense wat ons nooit sal ontmoet nie.

Maar die een ding wat ek gladnie kan kleinkry nie, is ander wildvreemde mense se behoefte om op sosiale media te gaan afpak oor wat hulle as stupid goed beskou.  In die verskriklikste taal.  Natuurlik onder ‘n skuilnaam.  Verskeur ‘n mens wat hulle nooit sal ontmoet nie op ‘n manier wat hulle nooit in persoon sou doen nie.
In my gedagtes sien ek net ‘n klomp dronk mense in ‘n kroeg op payday.  Besig om mekaar aan die hare rond te ruk en warm te klap.

En partykeer dink ek vir ‘n oomblik om ook kommentaar te gee op die gesuipte een se kommentaar. 
In my ouma se stem. 
“Jou onderrok hang uit, skat”.

Sondag 08 Januarie 2017

Beurt Bestuur

Ek het effens laat in my lewe leer bestuur.  Eerstens omdat my ma nie vir my kans gesien het nie en andersins omdat my destydse boyfriend nie opgewasse was teen my nie.  Eks bietjie cheeky. En miskien bietjie obsternaat.
Toe dink 'n slim vrou (is ek seker) eendag die idee uit van bestuursskole.  Toe kom ek reg.  Kry liksens en als.  Want die laaitie van die bestuurskool word betaal om vriendelik en geduldig te wees.  So ek het nie nodig gehad om in die middel van die highway van die pad af te trek en die senuwee agtige, kritiese siel in die passasier sitplek in te lig dat hy sy eie bleddie kar kan bestuur nie.

Ek is eintlik mal daaroor om te bestuur.  Want dan is ek in beheer en in ons gesin is die reel dat die bestuurder ook oor die musiek kan besluit.  Want mens moet konsentreer as jy bestuur en simpel musiek trek jou aandag af.
Hoe langer die pad hoe lekkerder ry ek.  Namibia is ideaal.

Self Pretoria se stadsverkeer verdra ek ter wille van die plesier van bestuurder wees.  Wel verdra is dalk 'n nie streng gesproke waar nie, maar dis 'n blog vir 'n ander dag.

Dag en datum wat my bloedjies sestien geword het, het ek begin om hulle te leer bestuur.  Altwee het in die maand wat hul agtien geword het, hulle lisensie gekry met die eerste probeerslag.  Ek is heimlik vreeslik trots op myself, maar vertel natuurlik vir hulle hoe oulik hulle is. 
Aangesien jongste op universiteit na skool besluit het, het ek haar ook dadelik en gereeld in Pretoria se verkeer ingevat.  Laat ek jou nou vertel dit was baie braaf van my.  As jy eers 'n cheeky, obsternaat, agtienjarige deur stadsverkeer kon bestuur, kan jy 'n leeu kaalhand aanvat en sonder 'n skrapie daar wegstap.  Ek het liters gesweet in die proses.
Teen die tyd dat sy negentien was het ek haar meisiekind alleen van Harties na Bela Bela laat ry om vir ouma te gaan haal.  Heimlik biddend, maar ek wil my meisiekind net so braaf en onafhanklik he soos my oudste.

Enigste probleem is nou dat ons altwee wil bestuur.  Elke keer. En die feit dat sy meestal my kar leen help nie my saak nie.  So deesdae het ons herhaaldelik dieselfde gesprek.  Sy wil bestuur asb en ek wil asb self my kar bestuur.  Boonop is ons identiese passasiers.  Sy ry te naby aan die rand en beskuldig my van dieselfde.  Sy ry te vinnig na my sin en beskuldig my dat ek my kar (let wel:  MY KAR) te hoog laat ref.

Sy bly aan haal my radio stasie van Bosveld Stereo af en ek moan oor die volume van haar silly musiek.

Maar die toppunt is dat die klein twit vir my probeer vertel dat ek 'n senuweeagtige bestuurder is.  Dis nou wragtig die toppunt van cheek.  Ek bestuur al langer as wat sy asemhaal.  En ek het haar leer bestuur.  Ek het al meer kilometers afgele as wat sy kan optel,  met stokou lendelam karre moes ry en swaar vragte gesleep in my lewe.  

Dis nog steeds my beurt om te bestuur,dankie.