Saterdag 21 Januarie 2017

Kroeggeveg

Displaying FB_IMG_1484923777492.jpg

Kroeg geveg

Ek geniet dit om mense se kommentaar op sosiale media te lees.  Dis vir my ‘n ander vorm van “People watching”.  Iets wat ek ook nog altyd geniet.  Die Here het ons so wonderlik verskillend gemaak, maar partykeer sukkel ek ‘n bietjie om “die liefde glo alles, hoop alles, bedek alles” te leef.  Die lewe is redelik wit of swart vir my.  So dan moet ek harder werk om die verskille te waardeer.  Ek snap nie altyd mense se motiverings om stupid goed aan te vang nie.  Dan rol ek my oë in die stillegeit of skinder by my ma of kinders oor die wildvreemdeling wat stupid goed aan vang.  Ek het ook ‘n vriendin of twee by wie ek oor ‘n glas wyn kan afpak.  Dan lag ons lekker of werk onsself bietjie op oor mense wat ons nooit sal ontmoet nie.

Maar die een ding wat ek gladnie kan kleinkry nie, is ander wildvreemde mense se behoefte om op sosiale media te gaan afpak oor wat hulle as stupid goed beskou.  In die verskriklikste taal.  Natuurlik onder ‘n skuilnaam.  Verskeur ‘n mens wat hulle nooit sal ontmoet nie op ‘n manier wat hulle nooit in persoon sou doen nie.
In my gedagtes sien ek net ‘n klomp dronk mense in ‘n kroeg op payday.  Besig om mekaar aan die hare rond te ruk en warm te klap.

En partykeer dink ek vir ‘n oomblik om ook kommentaar te gee op die gesuipte een se kommentaar. 
In my ouma se stem. 
“Jou onderrok hang uit, skat”.

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking