Maandag 14 November 2016

Paddas vang

Hi there.
Ons kuier vir ‘n paar uur sondag saammet klein kindertjies van vriende.  Ek verwonder my weer aan hul onophoudelike energie en vreugde in die lewe.  Die nuuskierigheid en vrye gees.
Driekwart deur die dag se kuier in die botaniese tuine besef seuntjie se ma dat hy onderklere geskip het vir die dag.  Min gepla.  Ons skud ons koppe en lag net.  Wens ons kon so min omgee wat konvensie van ons verwag.
Maar eintlik is hierdie ‘n padda storie.  Die 5jarige seunskind dring daarop aan om ‘n boks (groot) saam te bring vir die dag se piekniek.   Want sien, hy gaan paddas vang.  Die vrouens keer almal byvoorbaat by die huis al.  Die boks gaan nie saam nie.  Maar seuntjie hou net kalm by sy storie.  Gebreide padda hoed op die kop in die Suid Afrikaanse somer en moerse boks in die arms.  My seunskind moedig geesdriftig aan.  “Ja, bring die boks”  En vir ons vrouens “Los hom uit.  Hy is ‘n seunskind”
So gaan die boks op die ou end wragtig saam in die kleine karretjie.  Ousus is net baie beslis dat sy nie die boks op haar skoot gaan saamry nie.
Daar aangekom probeer Oulik dadelik die naaste blond in die geselskap oorreed om sy boks te dra.  Geen sukses.  “Dis jou boks wat jy wou bring.  Jy dra dit.”
Toe tannie weer sien, toe dra my seunskind ewe die boks vir die kleintjie.  Mans kan darem so saamstaan weet jy. 
Maar dis toe nie so maklik om paddas te vang nie.  Die klomp is naderhand nat en geskraap en toe daar uiteindelik ‘n padda in die boks is, toe gee die nou al nat bodem mee en padda ontsnap.
Seuntjie is erg ontsteld.  Mamma troos baie simpatiek, maar die mansmense is meer filosofies.
“Jy sal nog leer,  dis nooit maklik om ‘n padda te vang nie”
“En net mooi as jy dink jy het, dan ontsnap hulle”
“En as jy nou die padda wel gevang het, begin die groot probleem eintlik.  Want dan moet jy die padda kosgee”
En terwyl die mans vir mekaar grinnik vir hul eie slimgeid, skud ons vroumense net ons kop.
  Ons het dan gesê los die boks by die huis…..

Woensdag 09 November 2016

Ek en myself




Ek kyk in hierdie week ‘n fliek waarin Robert de Nero se karakter homself moet voorstel aan ‘n nuwe vriendin.  Hy doen dit vinnig en sjarmant in ‘n paar sinne.  Ek het die skrywer nogal bewonder.  Ek vind dit altyd ‘n moeilike vraag.  Dis een wat gewoonlik in werksonderhoude voorkom en as jy iemand nuut ontmoet en hulle vra jou om iets van jouself te vertel.
Wie is ek in ander se oë? 
Die statistiek van ouderdom, werk en kwalifikasies is eintlik niksseggend.
Is dit vir iemand anders belangrik dat ek erg is oor my kinders?  Het ek nodig om hardop te sê dat ek ‘n christen is?  Is almal nie maar lief vir die natuur en lees graag nie?
Nie dat ek die moed het om te vra watter eerste indruk ek skep nie.  Ek het al opinies gehoor wat my laat skrik het.
Ek wens ek kon sommer sê ek is beneuk.  Ek voel vasgevang iewers tussen eerlik en diplomaties.  Ek weet glad nie hoe om my eie beuel te blaas nie al dink ek nie ek is die boringste persoon nie.
Hoe harder ek dink hoe meer slaan ek ‘n blank.  Eintlik lag ek te hard en praat ek te veel.  Maar my vriende like my anyway.
So help asb.  Wat sê jy vir ander mense as jy jouself in minder as ‘n minuut moet bekend stel/verkoop?

Dinsdag 08 November 2016

Matrone

Ek dink om ‘n matrone te wees moet geneties wees.
 Soos reeds genoem is my geliefde ma in ‘n ouetehuis.  Nou sy was vlugtig, lank lank gelede, ‘n kombuis matrone in ‘n ander ouetehuis toe sy nog te jonk was om ‘n inwoner te wees.  Dit was nie vir haar ‘n lekker werk nie.  Wel, sy het nooit regtig enige van haar werke geniet nie, maar dis dalk omdat sy ‘n depressive lyer is.  En die werk in die ouetehuis kombuis was dalk ook nie lekker nie, want die oorhoofse matrone was nie my ma se soort mens nie.  Min mense is eintlik my ma se soort mens, maar dis dalk omdat sy ‘n perfeksionis en ‘n introvert is. 
Al het my ma haar rukkie as matrone nie geniet nie, het sy nogsteeds ‘n matrone mentaliteit.
Een van die dames by haar ouetehuis waar sy nou bly, trek nie die uniform aan nie.  Die dame is aan die jonger kant en daag dan by die werk op in denims of op twee geleenthede in ‘n kant mini rokkie.
Dit het my streng, konserwatiewe ma bietjie gepla.  Toe kom sy agter dit pla die ander streng, konserwatiewe tannies ook.  Toe vra sy die ander werknemers hoekom die betrokkie dametjie nie by dieselfde reëls hou nie.  Net om die hoor sy is verlangs familie van die hoof matrone en niemand het die moed om iets te sê nie.
En net daar skop my moeder se matrone gene in en sy skraap die dametjie nader en steek ‘n preek af.
Uiteinde is dat dametjie nou in uniform is dankie en die ander werknemers my ma in die gange druk as hulle haar teëkom.  Ek rol net my oë in die stilligheid en hoop die dametjie, wat nogal in die kombuis werk, spoeg nie in my ma se kos nie.

My jongste, wat reeds hoofmeisie in matriek was, is net so ‘n klein matrone.  Net jammer dat sy my meestal as die oumensie aansien wat gerun moet word.
Maar ek sal liewer saggies praat.  Want as ek my eie stem terug hoor op ‘n telefoon (daai weird echo wat partykeer gebeur)  dan klink ek self maar soos ‘n kruising tussen ‘n mother superior en ‘n matrone. 
And I kid you not….. terwyl ek hierdie blog skryf bel die plaaslike ouetehuis se matrone my en wens my geluk dat ek op die kortlys is vir ‘n pos by die ouetehuis!!!!
My volgende blog sal regtig oor telepatie of toeval moet wees. 

Sondag 06 November 2016

Moord 6 uur in die oggend



Vanoggend 'n yslike groot viool in die bad ontdek. So groot dat ek dit sonder my bril kon raaksien. Seunskind reken 6 uur is te vroeg om sy bed te verlaat en dit om moord te kom pleeg. Toe is dit maar ek en 'n blikkie doom (for flying insects) om spinnekop ten minste net dronk en stadig te kry voor ek dit met die plakkie doodslaan. Hoekom voel ek altyd so sleg? Maar vang en uitdra sien ek nie voor kans nie. Sorry. Rerig. Vreeslik sorry.

Vrydag 04 November 2016

Die laaste melk



Ek is een van die normaalste, gebalanseerste mense wat ek ken.  My ma dink so en klaar.   Ek is ook nie aan enige iets verslaaf nie.  Ek sê so, dan is dit so.
Maar as ek eerste ding in die oggend die yskas oopmaak en daar nie melk vir my koffie nie…. Dan raak ek die kluts so bietjie kwyt.  Veral omdat ek weet ek het gisteraand die laaste bietjie melk gelos spesiaal vir die dood noodsaaklike eerste koppie koffie vir die dag.  En seunskind is nie eers lief vir koffie nie. 
Ek sweer dis die duiwel wat hom lus maak vir koffie twaalfuur in die nag as ek al slaap.  Want die duiwel weet seker ook ek is baie gebalanseerd en aan niks verslaaf nie. 
En as ek die dag die kluts kwytraak, doen ek dit nogal luidkeels.  Soos enige ander normale mens.  En as iemand my vra hoe dit gaan maak ek seker hulle weet ek moes die dag sonder koffie aanpak.  En ek verander my whatsup profile picture na ‘n rooigesiggie.  Met kwaai ogies.  Want ek is nie skaam nie.  Ek is kwaad.  Soos enige normale mens.
Dis nog redelik ok as iemand die laaste kaas of die laaste margarien gebruik het, maar die laaste melk?  En dit die laaste ding in die nag?