Saterdag 31 Desember 2016

Die mal haas

Displaying 2016-12-31 18.08.34.jpg
Nadat ek Jongste streng verbied het om 'n nuwe kat aan te skaf het sy my slim omseil.  Deur 'n nuwe haas te kry.
Ek verstaan nou die uitdrukking "so mal soos 'n haas" nadat ek die swart snoesige gedoentetjie moes oppas deur die feesseisoen.
Natuurlik.
Jongste hou vakansie.
By die see.
Klink ek dikbek?
Sorry hoor.
As jy enigsins bekend is met my of my blog weet jy ons is katmense.  Erg.
So ek was baie benoud oor wat met haas gaan gebeur in 'n huis met twee katte.  Want haas in 'n hok hou doen ek nie.  Ek het min hang-ups, maar diere wat in hokke aangehou word is een van die min.
Ek was verniet benoud.  Nia hol weg as die haas probeer maats maak, en soos die fotos wys, Picasso is min gespin.  Dit het hom 'n week gevat om agter te kom hiers 'n vreemde ding in die huis.  En noudat hy dit weet is hy soos in ingels "bemused"
Ek moet miskien net noem dat Picasso ons spesiale kat is.  Ek sweer hy het ook 'n ekstra chromosoom.
Dis toe die Jack Russel wat ek moet dophou.  Sy tril behoorlik van opwinding en hou die haas met groot spanning dop.  Na 'n week van hond en haas uitmekaar hou, raak ek moeg vir die toe deure oral.
Ek besluit om als neer te sit, deure oop te maak en my volle aandag aan die hond te gee.  Dalk kry ek my eintlik baie soet Jessica brak om maats te maak met die haas.
5 minute gevat.
Toe maak ek maar weer deure toe.
Want die hond is dalk beskaaf, maar die haas ....
Jongste het reggekry om die bleddie ding 'n huishaas te maak.
As die deur oopgaan hop hy in.  Van kamer tot kamer en dis nie asof hy potty trained is nie.
En as ek hom vang en uitdra storm hy eers verwilder die grasperk vol, skop sy agterbene eers diekant toe en dan daaikant toe, (Fred Astairs se soort) en gaan kruip dan onder die stoepbank weg.  Want soveel tuin is duidelik te veel vir huishaas.
Displaying 2016-12-31 18.09.07.jpg

Saterdag 24 Desember 2016

Annettie Sweetheart

Marieta Stanford se foto.


As ons vir ewig lewe en ons tyd op aarde net kortstondig is, dan is jy klaar my suksesvolste kind.  Want jy het klaar die wedloop voltooi.  Jy het die eindpunt met groot spoed behaal.  Jy het vandag , agt jaar gelede,  die ewige lewe ge erf.  Jy is nie dood nie.  En ek het jou nie verloor nie.  Ek weet presies waar jy is.  Wel ek weet presies jy is in die hemel.  Waar presies in die hemel kan ek net raai.  Met jou eindlose energie en honger na avontuur, is ek seker jy trek al by 'n sterrestelsel wat ons nog niks van weet nie.  En weet sommer soos net 'n ma kan weet, toe Saint Peter die hemel se poorte vir jou oopgesluit het, het die engel Gabriel byvoorbaat die agter hekkie vir jou oopgemaak en gevra: "Gaan speel buite asseblief"  Buite in die grote hemelruim, want jou menswees sal te besig wees vir 'n hemel vol ou siele.

Marieta Stanford se foto.

Dinsdag 29 November 2016

Werksonderhoude in die regte lewe







 Image result for interview for job
Die mensdom bly maar interresant.  Afgelê en werkloos is ‘n onsekere plek vir enige een.  Om in jou laat veertigs te wees maak dit bietjie erger.
Advertensie na advertensie vra blatant vir jonk.
“Jonk en energiek”
“Tussen 20 en 25 “
“Ambisieus en onder 30”
Met jare se ondervinding in wyd verspreide velde, maar sonder enige bewysbare kwalifikasies, is mens genoodsaak om kreatief te dink.
Net nie te kreatief met die CV raak nie.  Ek is kriewelrig vir lieg.   Ek weet immers uit dure ondervinding as ek sou waag lieg kom ek feitlik dadelik in die warm water.  Dis my lot al uit my kinderdae.
As die gewraakte vraag:”Beskryf jouself” opduik in ‘n onderhoud wens ek so ek kon sê”:  “Maklik om uit te vang.”  Of meer volledig: “Moeilik en puntenerig.  Ek verpes ‘n baas wat heeltyd oor my skouer loer, of ‘n kollega wat my probeer voorskryf, domineer, afkraak of beskinder.” Of “Ek hoop nie hier werk enige katterige flerries nie.  Ek het nie geduld daarmee nie.”
Gelukkig doen tydskrifte deesdae moeite om jou voor te berei op onderhoude.
Trek netjies en profisioneel aan.
En sê dan wat vir die ouerige tannie wat die onderhoud voer en so ewe laat hoor: “Ons is nie grênd hier nie hoor.”  Terwyl sy jou navy pakkie afkeurend bekyk.
Maak oogkontak en bly vriendelik en kalm
Tot jy ondervra word deur ‘n blatante rassis wat kort kort na jou (ordentlik bedekte) boesem loer.
Sit met jou voete netjies langs mekaar en vou jou hande liggies in jou skoot.
Terwyl die enigste ander sitplek ‘n diep uitgesakte bank is en jy boonop ewe vriendelike en ongevraagd ‘n koppie tee in die hand gestop is.
Dan skuif jy maar noodgedwonge tot op die rand van die kontrêpsie, kap jou kniee saam en plant jou voete so wyd uitgestrek as moontlik terwyl jy van bo beloer en ondervra word.
Die CV alleen het my moedeloos.  Elkeen het ‘n besliste opinie van hoe dit moet lyk, die hoeveelheid detail, die voorblad en ‘n foto al dan nie.  Elke enkele opinie verskil van die vorige.  Ek is eenkeer “gehelp” deur ‘n kennis wat daarop roem dat hy CV’s profesioneel opstel.  Ek het myself nie herken nie.   Ek het ook nie die “job description” verstaan nie.  Ek het nog nooit sulke take verrig nie.  Die kort profesionele beskrywing wat my moes “saamvat” was tergelyketyd ‘n vae cliché en ‘n besliste leuen.  Dit was 7 bladsye lank.  Ek is  nie belangrik of interesant genoeg vir 7 bladsye nie.  Selfs nie as die eerste bladsy ‘n dekbrief met ‘n foto van my is nie.
Vriende en kennise help graag en gereeld. ‘n Sms of ‘n stukkie papier met ‘n nommer op word opreg aangebied. “So en so soek iemand”
Dan bel jy maar getrou.  Bietjie skaam en baie onseker met geen idee wat presies so en so soek nie.
Eenkeer daal daar so ‘n laaang stilte neer aan die ander kant van die foon. Ek “Hello?  Hello?” nog toe kry die vroutjie haar stem en val my in die rede met “Ek loop eers einde volgende week!”  Eina!   Ek het gevra vir die bestuurder?  Nou kan ek nie help om te wonder nie.  Het sy dalk net gedreig om te loop en toe is haar wind uit haar seile toe ‘n aplikant sommer bel?   Sy was beslis dat ek nie ‘n CV kan email nie, maar persoonlik in die dorp langsaan moet kom aflewer.  Ek kon tot nou toe nie die plek kry nie.  Al volg ek haar instruksies noukeurig.
Na ‘n paar jaar in die mynbedryf en gewoond aan ‘n ordentlike salaris verstom dit my want mense aanbied as salaris.  Ek dink my kruideniersware is meer as R3000.   Ek weet my huur is meer as R6 000. 
En terwyl jou spaargeld krimp en die UIF sloer slaan die benoudheid so elke nou en dan toe.  Uiteindelik word jy weer vir ‘n onderhoud genooi.
Die eienaar van ‘n eenmansaak waarsku vooraf streng dat hy net twintig minute het om af te staan aan ‘ n onderhoud.  Op die ou end rek dit uit na meer as ‘n uur.  Die man gesels wyd en baie.  Hy vra meeste van die vrae waarop die tydskriffte jou so mooi voorberei, maar gelukkig hoef ek niks te sê nie.  Hy val dadelik in en gee sy eie antwoord. Ek weet presies wat sy geloofsooortuiging is (ek sit hom in die stillligheid op my gebedslysie), sy politieke oortuiging (ai tog), sy opinie van ons land se leiers (ek wens ek kon verdedig, maar stem ongelukkig en net innerlik saam).
Dan sluit hy af met die gewraakte “Beskryf jouself” “En ek soek nie jou naam, ouderdom, kwalifikasies en ondervinding nie.  Wie is jy??”
Met my hele ordentilke toesprakie daarmee heen huiwer ek gelukkig ‘n breukdeel van ‘n sekonde te lank en hy val dadelik in:”Ek is …’n perfeksionis, bla bla, vrygewig, bla bla, hardwerkend, bla bla, en vuurwarm tussen die lakens.”
Hoesê??
Ek  is vir die eerste keer in my ganse bestaan van amper vyftig jaar stom geslaan. Stomgeslaan!
Gelukkig daardie werk ook nie gekry nie.
Dit gaan dalk rof, maar boetie, die lewe is ‘n interresante plek.

Tyd om vandag se koerant te gaan optel.

Image result for paper with job opportunities

Donderdag 24 November 2016

Weggooi November



Hierdie was ‘n weggooi maand.  Werk was skaars, so tyd was baie, maar my verskonings was meer.
So het ek hierdie maand omgedroom en omgedink.  Laat geslaap, tv gekyk en gelees.
En elke keer as ek myself probeer oortuig om net iets nuttig te doen, het ek misluk.
Dit was nie lekker nie.  Ek het nie ontspan nie.  Geen briljante idee het posgevat nie.  Dit was net niks.  En leeg. En vervelig.
As ek as kind sou waag om vir my ma te sê ek is vervelig was die vet in die vuur.  Want ek is verveeld. Nie vervelig nie.  En as ek iets soek om te doen moet ek net sê.  Wat genoeg van ‘n dreigement was om my onmiddellik aan iets te laat dink om te doen.  En dit dan dadelik te gaan doen voor my rooikop ma nog ‘n woord kan uitkry.  Want ek het in elk geval as kind elke vakansie wakker geword met ‘n lysie op die toilet.  Ons het ons vakansies omgeskop en geskuur.  Teen die tyd wat skool weer begin het (Dankie tog!!) was die potte se bodems  weer blink geskuur en al die kaste uitgepak, met koerant uitgevoer en weer netjies gepak.  Die vensters het geblink en al die gordyne was af, gewas en weer opgehang.  As jou lysie vir die dag afgehandel was, kon jy gaan speel.  Buite.  Ek het nie tv of radio geken nie.  Ons kinders het onself op straat met die bure se kinders vermaak.  Fiets gery, boom geklim en onself nerdos geval met rolskaatse (wat 4 wieletjies aangehad het).
Maar nou is ek ‘n grootmens en daar is nie meer lysies nie.  En ek is nie lus nie.  Die motivering om myself te motiveer ontbreek.  Einde van die jaar gatvol lê die huis vol en niemand wil dit optel nie.  Ek ook nie.
Die wrede waarheid is as jy ‘n grootmens is moet jy self jou wiele pomp wanneer dit pap geword het.
Maar vandag is reeds driekwart klaar.  Ek sal more.  Hoe sê die jongmense nou weer in baster engels?  “I don’t want to adult”

Woensdag 16 November 2016

Skelm jag



My pa het in die destydse Suid Wes skelm gejag.  Op reservate waar niemand mag jag nie.  Hy was nie die enigste een nie.  Daai tyd was dit soos om te weier om e toll te betaal in hierdie tyd is.  Ek is duidelik my pa se kind.  Al het ek nog nooit gejag nie.  My pa was ‘n besonderse mens, maar hy het wel 2 swak plekkies gehad. 
 Nee, nie skelm jag nie. 
 Hy kon verskriklik skrik as iemand skielik agter hom praat of aan hom vat.  Dan het hy lank en onderhoudend in tale gepraat.  Die soort tale wat in Deon Meyer se boeke verskyn as sy Bennie Griessel karakter aan die woord is.  Dis nou as jy ‘n Deon Meyer boek by ‘n vriendin geleen kry, want as jy dit by die stadsbiblioteek uitneem het een of ander vroom tannie die boek met ‘n swart koukie aangeval en dan moet jy raai hoe kleurryk Bennie Griessel vloek.  Maar my pa was ‘n SuidWester gebore en getoë.  Hy kon Bennie Griessel na ‘n laerskoolkind laat klink as hy die dag geskrik het.

My pa se ander swak plekkie was dat hy maklik naar geraak het.  Vir enige iets wat fishy lyk.  Of kakkerig ruik.  Of as iemand daai nare brulbraak geluid maak wat waarsku dat opgooi naby is.  En as aldrie gelyk gebeur het was my liewe pa hulpeloos.
Toe maak hy eendag die groot fout om saammet ‘n pel te gaan jag wat swakheid nommer twee in gemeen met hom het.  Die jag self was heel suksesvol daar in die klip woestyn van Brandberg Wes se wêreld.  Maar terug by die huis toe loop die storie dat die polisie oppad is vir hul maandlikse draai om te kyk of als nog wettiglik verloop.  En die 4 vriende besluit om maar vir die wis en die onwis van die evidence te gaan ontslae raak.  Want my pa-hulle het gejag vir vleis vir hul gesinne.  Die vel met die kop, pootjies en binnegoed is afgeslag en in die veld gelos vir die aasdiere.
Die moeilikheid vir my pa en sy mede sensitiewe pêl het daar begin.  Want in die woestyn hitte die paar dae later is die binnegoed al lekker ryp.  Nou moet elkeen ‘n punt vat en loop, want hulle wil die evidence by ‘n krans gaan afgooi waar ‘n poliesman nooit sal kom nie.  Maar my pa is mal naar vir die spulletjie.  En sy maat netsoveel.  En dan maak my pa daai brulbraak geluid en dan skiet die pêl katte.  En dan is dit my pa se beurt oor die geluid van opgooi net te veel vir hom is.  En so het die twee brullend vir mekaar op die ou end die gemsbokvel en binnegoed oor ‘n krans gekry. 

Ek dink nie my pa het gou weer saammet die ou gaan jag nie.