Maandag 31 Oktober 2016

Haar kant



Ek is deesdae klaar grootgemaak aan my kinders en hulle is nou al oud genoeg om hul kinderlewe in nabetragting te beskou.  Dis nie ‘n deel van ouerskap wat ek vreeslik geniet nie.  Meestal gaan die gesins staaltjie oor hoe kwaai ek was.  Let op die was.  Nou bang hulle my niks meer nie. 
Ek kan nou nog my kalm, volwasse oudste op sy perdjie laat spring as ek die 2 woordjies sê:  “Haar kant.”
Sien, ek het ‘n moerse hang-up oor boelie.  So ek het my voorgeneem dat geen kind van my ‘n ander kind van my sal boelie nie. Nooit ooit nie. 
So werk dit dan uit dat my oudste ‘n seunskind is en ook die enigste mansmens in die huis.  Soos meeste seuns is sy energie vlakke en aggresie effens hoër as die meisiekinders s’n wat weer sterker staan op kommunikasie (lees klik).
So as hy bietjie hardhandig begin speel, dan skreeu die betrokke sussie dadelik “Maaaaa!” En ma is dadelik op en paraat.  Dan kalmeer ek eers die twee en vra onpartydig elkeen se storie.  En kom dan feitlik altyd tot die gevolgtrekking dat seunskind bietjie hardhandig met sy sussie was en die spelery moet kalmeer of endkry.
Een goeie dag bars die tiener ewe hardegat uit: “Ma vat altyd hulle kant.  Ma maak net of Ma na my luister.  Hoekom sê Ma nie net ‘Haar kant’ en kry klaar nie?”
En toe doen ek dit.
Elke keer.
Vir maande en maande.
Ek en die dogters het gedink dis vreeslik snaaks.
Oudste glad nie.  Nou nog nie.  Soos ek sê.  As ek hom gewip wil sien hoef ek tot vandag toe nog net daardie 2 woorde te sê.
En nou dat ek kant en klaar grootgemaak het en niks kan verander aan die verlede nie, kry ek hom bietjie jammer.  Dit was seker partykeer bietjie opdraande met sy kwaai ma en sy twee klikbek sussies.

Sondag 30 Oktober 2016

Die boerboel en die kraai



Image result for boerboel dogs
My pa het destyds toe ek nog bitter klein was, ons boerboel vasgemaak omdat hy erg kwaai vas.  ‘n Draad is gespan oor die erf en op twee punte in die grond geanker.  Die hond se ketting is dan aan die draad vasgemaak.  Die hond kon dus van ankerpunt tot ankerpunt loop, maar net ‘n paar tree weerskante van die draad.  Die paadjie is dan ook duidelik uitgeloop soos die hond sy entjie erf gepatroleer het.  Sy lêplek vas egter onder ‘n boom vir skaduwee en bietjie koelte, maar veel vrede het die arme hond nie gehad nie.  Die pyn in sy gat was ons kraai.  ‘n Swartkraai wat my pa as kuiken gered het.  Sy een vlerk was morsaf by die lid  gewees.   Pa het ‘n uil verdink.  Die kraai het meestal vrylik op die erf rongeloop en kwaadgedoen.  Die boerboel was een van sy slagoffers.  Die kraai het graag bosluise van die hond afgepik.  En dan die wondjie bly aan oop pik vir nog ‘n stukkie vleis.  En dan later die roof afgepik en so aan en so aan.  Die boerboel het dit nie geniet nie.  Dit was duidelik bleddie seer.  So as die kraai in sy omgewing kom rondloop het, was die hond dadelik agterdogtig.  Hy sou sy kop lig en die kraai lank dophou.  Maar kraai kyk anderkantoe en pik pik doodonskuldig in die stof rond.  Hond se ou groot kop raak naderhand swaar en sy agterdog kalmeer.  Dan lê hy weer plat met ‘n sug en slaap verder.  Dan wandel, wei die kraai al nader en nader.  En as die hond weer loer, dan kyk die kraai ver weg.  Die lyftaal duidelik.  “Ek is doodonskuldig.  Ek is net per ongeluk in jou nabyheid”  Tot die kraai in trefafstand was.  Dan het hy in een sprong op die hond gespring, gepik en in dieselfde beweging weggehop.  Presies aan die anderkant van die uitgetrapte paadjie wat die hond en sy bek nie kon bereik nie.  Want soos die kraai land, so is die hond op en kwaad en probeer die vabond byt, maar die ketting is te kort en die kraai net-net te ver.
En hierdie miniatuur drama het hom herhaaldelik afgespeel.  En elke keer kon die kraai die hond ‘n rat voor die oë draai.
Nou die dag lees ek hoe slim kraaie blykbaar is.  Die boerboel sou dit jare gelede al vir ons kon sê.
En as hy kon praat sou hy seker ook wou weet hoekom ons die kraai Satan gedoop het.

Vrydag 28 Oktober 2016

Kat manipulasies



Displaying IMG-20161027-WA0011.jpgDisplaying 2016-10-28 15.29.52.jpg

So breek die hartseer dag aan wat ons ons geliefde prinses moet laat gaan.  Die ou lady is oud en seer en kannie meer ordentlik eet nie.  Ons huil vooraf en neem afskeid.  Ons tjank onbeskaam gedurende en treur vir weke daarna.  Elke keer as ons seunskindkat na haar loop en soek, loop die trane weer.
Ek begin ook lank voor die tyd waarsku.  ‘Moet asb nie dat iemand jou met ‘n ander kat troos nie.  Jy is ‘n student.  Ek gaan nie nog ‘n dier van jou grootmaak en versorg nie.'
‘Nee’  stem sy saam.  Ek is vreeslik verlig en heimlik trots op haar volwasse houding.
Ag dit was nie ‘n maand nie!!!  Kom die fototjie van die cuteste babakat op whatsup.
Ek sê dadelik en beslis ‘neeee.’  Lewer geen kommentaar op die dierbare ou dingetjie nie.
Dit help niks.  Sy bly aan smeek en boelie sjarmant. 
Ek sleep naderhand vir seunskind in.  Hy begin dadelik sy eie kat voortrek in die rusie.   Heeltemal verkeerde aanslag.  Nou stry my kosbare nageslag oor wie se kat die alpha in die huishouding is en my besliste ‘nee’ verdwyn tussen emoi prentjies van katte met hartjies vir ogies.
Ek sê nee op all die maniere wat die foon my toelaat.  Getik, met prentjies en met voice notes. 
“As jy nee stadig sê klink dit soos ja”  probeer my jongste my koudsit.
Nou sit ek hier en blog… doodbenoud sy bring die bleddie ding huis toe.  Want sy ken my so goed as wat ek myself ken.  As ek eers my hande op die bondeltjie het en my neus in daai snoesige pels gesteek het is dit verby met Kees.  Dan soek ek kliphard saam na name en neem ‘ n honderd fotos  van die simpel kat.
Dis immers presies soos ek 14 jaar gelede ‘n sekere vlooi bedekte bleddie prinses in my hart toegelaat het, want hoe sê jy nou nee vir ‘n graad eentjie op haar verjaarsdag nogal?
Maar nou is sy feitlik 21 en ek sal liewer nie hierdie publiseer voor ek nie die geveg gewen het nie.  Sy het op hierdie aarde GEEN amunisie nodig nie.


Displaying IMG-20160724-WA0000.jpg

Donderdag 27 Oktober 2016

Familie spreekwoorde



Ons het almal op skool rye en rye spreekwoorde en hul betekenis uit ons kop moes leer.
Partykeer as jy uitvind wat die oorsprong van ‘n spreekwoord  is lag jy lekker.
Die eerste keer wat my suster my gevra het ‘wat het dit met die prys van eiers te doen?’ was ek heeltemal verward.  ‘wat hét dit met die prys van eiers te doen?  Hoekom gaan jy nou aan oor eiers?’  Ek het die sarkasme heeltemal gemis en haar net nog kwater gemaak.  Ek het eers later die uitdrukking op skool geleer en toe lekker gelag vir hoe slim ek haar daai tyd gepootjie het.  Sonder om te weet.
Met die internet en tegnologie het nuwe uitdrukkings ontstaan wat ons nooit op skool vir ons kinders gaan leer nie.
“Lekker man, lekker” laat almal lekker grinnik wat al die video’tjie te sien gekry het.
“Listen Linda, listen!!!”  in ‘n irriterende kinderstemmetjie ontlont dadelik ‘n potensiele gestryery in ons huis.
“Ek juice fokkol!”  is my seun se stout antwoord op vreemdelinge wat agterdogtig oor sy spiere is.  Dan lag hy en sy pêlle lekker in hul mou.  Maar as jy nooit die komediant se skets gesien het nie is dit nou nie rerig so snaaks nie.
Maar dis die privaat spreekwoorde in elke familie wat my fasineer.  My oorlede broer het ‘n woordeboek vol sêgoed gehad.  Party erg stout uit sy army dae.   Hy het graag Afrikaans direk in engels vertaal en dan mense lekker laat lag vir sy stories. 
Partykeer raak dit bietjie erg.  Mense dink seker al ons is weird.  Nou probeer ons ons nonsens beperk tot wanneer dit net ons is. 

 ‘n Privaat bende wat in korthand met mekaar spot.

Maandag 24 Oktober 2016

Oktoberpyn




Displaying 20161019_082258.jpg

Oktober is voorwaar die mooiste mooiste maand vir my.
Ek is mal oor die pers bome wat so kortstondig in hierdie maand blom.  Oordadig sonder enige groen gooi die jakarandas koelte en ‘n pers tapyt onder op die grond.
Waar die heuningbye dikwels wegkruip op soek na nektar en kaalvoet kindertjies onverwags met pyn kan kennis maak.
So dan wil ons so bittergraag ons bloedjies die pyn spaar.  Maar probeer nou ‘n lewendige kleuter van die geurige vrolike tapyt af hou.  Dan sit sy verseker ‘n keel op wat die bure verby die rugbykommentaar kan hoor.
So los jy maar en hoop en bid dit eindig nie in ‘n tranedal nie, of tel jy jou kosbare terroris op en dra haar fisies weg?
Maar onthou jy ook maar hierdie les.  Want eendag, veel gouer as wat jy ooit sou kon dink, sit jou lewendige kind oorkant jou om ‘n tafel en dring aan op haar eie keuses en besluite.  Want sy sien net die mooi en die lekker en jou keer en waarsku maak haar net moerig.
Dan moet jy ook maar net hoop en bid dit eindig goed.  Want jy het klaar grootgemaak en optel en wegdra is nie meer moontlik nie.