Donderdag 24 November 2016

Weggooi November



Hierdie was ‘n weggooi maand.  Werk was skaars, so tyd was baie, maar my verskonings was meer.
So het ek hierdie maand omgedroom en omgedink.  Laat geslaap, tv gekyk en gelees.
En elke keer as ek myself probeer oortuig om net iets nuttig te doen, het ek misluk.
Dit was nie lekker nie.  Ek het nie ontspan nie.  Geen briljante idee het posgevat nie.  Dit was net niks.  En leeg. En vervelig.
As ek as kind sou waag om vir my ma te sê ek is vervelig was die vet in die vuur.  Want ek is verveeld. Nie vervelig nie.  En as ek iets soek om te doen moet ek net sê.  Wat genoeg van ‘n dreigement was om my onmiddellik aan iets te laat dink om te doen.  En dit dan dadelik te gaan doen voor my rooikop ma nog ‘n woord kan uitkry.  Want ek het in elk geval as kind elke vakansie wakker geword met ‘n lysie op die toilet.  Ons het ons vakansies omgeskop en geskuur.  Teen die tyd wat skool weer begin het (Dankie tog!!) was die potte se bodems  weer blink geskuur en al die kaste uitgepak, met koerant uitgevoer en weer netjies gepak.  Die vensters het geblink en al die gordyne was af, gewas en weer opgehang.  As jou lysie vir die dag afgehandel was, kon jy gaan speel.  Buite.  Ek het nie tv of radio geken nie.  Ons kinders het onself op straat met die bure se kinders vermaak.  Fiets gery, boom geklim en onself nerdos geval met rolskaatse (wat 4 wieletjies aangehad het).
Maar nou is ek ‘n grootmens en daar is nie meer lysies nie.  En ek is nie lus nie.  Die motivering om myself te motiveer ontbreek.  Einde van die jaar gatvol lê die huis vol en niemand wil dit optel nie.  Ek ook nie.
Die wrede waarheid is as jy ‘n grootmens is moet jy self jou wiele pomp wanneer dit pap geword het.
Maar vandag is reeds driekwart klaar.  Ek sal more.  Hoe sê die jongmense nou weer in baster engels?  “I don’t want to adult”

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking