Donderdag 02 Februarie 2017

Koffie bobbejaan

My ouers het hulle jongmens lewe gely in die jare toet toe almal nog hulle opinie vir jou moes gee in ‘n brief, via die skoonsussies se geskinder,  of ergste, in jou gesig.  Dit was voor die tyd van politieke korrektheid en massa histerie. Skandes is in ‘n kas toegemaak, gewoonlik vir ewig en @#@ aanjaag was eers uit jou uit gevoeter en dan later onder groot gelag oorvertel.  Dis waar familie staaltjies hul oorsprong het.   Ouma Grieta het tien kinders grootgemaak in die destydse Suid Wes in die jare toet soos bo verduidelik.  Veral die ses seunskinders was wild stout.  Ons het baie familie staaltjies….
Hierdie een is van ‘n bobbejaan wat as kleintjie gevang was en mak gemaak is.  Daar was meer as een so ‘n ongelukkige bobbejaan in die familie argiewe, maar hierdie een was die eerste een gewees.  Dink ek.
Hy het sy lewe aan ‘n ketting aan ‘n paal gespandeer en ‘n ewige indruk op my pa gelos van presies hoe slim en hoe skelm ‘n bobbejaan eintlik is.
Een van die stout kinders (waarskynlik my pa) het die bobbejaan koffie leer drink.   Almal is baie vroeg koffie leer drink in ons familie.  Koffie is verslawend.  Die bobbejaan het naderhand my ouma mal gehad, want as sy die koffie bekers uitpak in die kombuis begin die bobbejaan buite op die werf skreeu vir lewe en dood.  En daar is nie ‘n venster dat hy kan sien ouma maak koffie nie.  En met die dat ouma baie en gereeld koffie gemaak het (10 koffie verslaafde kinders) het die bobbejaan haar moeg gehad.  Sy het naderhand saggies, saggies die koffie bekers uitgepak, maar vergeefs.  Op een of ander bo natuurlke manier het daardie bobbejaan gewéet as daar koffie gemaak word.  En min goed het so ‘n harde irriterende skreeu soos ‘n bobbejaan.  Veral een wat sy koffie fix soek.
Naderhand het almal probeer uitfigure hoe die bobbejaan geweet het as daar koffie gemaak word.  Die kinders, die ovamboes, die boesmans, die lot.
Kom dit op die ou end uit dat daar ‘n gaatjie in die sinkmuur is wat net mooi op die tafel se hoek val.  En as die bobbejaan bo op die paal op sy platform sit kan hy net mooi mik en sien wat daar aangaan!  Slim Kees.
En natuurlik kan dit toe nou nie hoër of laer nie, die bobbejaan moet genees word van die verslawing.  Deur hom ‘n moerse skottel koffie op een slag te gee.  Met brandewyn in.  Want dit gaan mos werk.
Die affêre was hoogs vermaaklik met die bobbejaan wat naderhand op die sy lê en drink en later op die ander sy lê en drink, want hy kannie meer regop kom nie en die pens is naderhand rond gesuip, maar Kees se kind het nie opgehou voor die skottel nie leeg was nie.

Volgende oggend toe ouma eerste ding koffie maak, toe skreeu die bobbejaan dadelik vir sy porsie koffie.  Genees niks
Foto van Ouma Grieta wie se sin vir humor my altyd sal bybly

Marieta Stanford se foto.

1 opmerking:

  1. Kan jy glo! Flippen slim en slinks, ñ bobbejaan. Jy het spesiale herinneringe, Mariet.

    AntwoordVee uit