Ek het oorgeskakel na 'n ander blog adres ter wille van 'n wyer lesersforum
http://woestynkind.wordpress.com
Baie dankie vir elkeen se belangstelling.
Woestynkind
Sondag 02 April 2017
Donderdag 02 Februarie 2017
Koffie bobbejaan
My ouers het
hulle jongmens lewe gely in die jare toet toe almal nog hulle opinie vir jou
moes gee in ‘n brief, via die skoonsussies se geskinder, of ergste, in jou gesig. Dit was voor die tyd van politieke
korrektheid en massa histerie. Skandes is in ‘n kas toegemaak, gewoonlik vir
ewig en @#@ aanjaag was eers uit jou uit gevoeter en dan later onder groot
gelag oorvertel. Dis waar familie
staaltjies hul oorsprong het. Ouma
Grieta het tien kinders grootgemaak in die destydse Suid Wes in die jare toet
soos bo verduidelik. Veral die ses
seunskinders was wild stout. Ons het
baie familie staaltjies….
Hierdie een
is van ‘n bobbejaan wat as kleintjie gevang was en mak gemaak is. Daar was meer as een so ‘n ongelukkige bobbejaan
in die familie argiewe, maar hierdie een was die eerste een gewees. Dink ek.
Hy het sy
lewe aan ‘n ketting aan ‘n paal gespandeer en ‘n ewige indruk op my pa gelos
van presies hoe slim en hoe skelm ‘n bobbejaan eintlik is.
Een van die
stout kinders (waarskynlik my pa) het die bobbejaan koffie leer drink. Almal is baie vroeg koffie leer drink in ons
familie. Koffie is verslawend. Die bobbejaan het naderhand my ouma mal
gehad, want as sy die koffie bekers uitpak in die kombuis begin die bobbejaan
buite op die werf skreeu vir lewe en dood.
En daar is nie ‘n venster dat hy kan sien ouma maak koffie nie. En met die dat ouma baie en gereeld koffie
gemaak het (10 koffie verslaafde kinders) het die bobbejaan haar moeg gehad. Sy het naderhand saggies, saggies die koffie
bekers uitgepak, maar vergeefs. Op een
of ander bo natuurlke manier het daardie bobbejaan gewéet as daar koffie gemaak
word. En min goed het so ‘n harde irriterende
skreeu soos ‘n bobbejaan. Veral een wat
sy koffie fix soek.
Naderhand
het almal probeer uitfigure hoe die bobbejaan geweet het as daar koffie gemaak
word. Die kinders, die ovamboes, die
boesmans, die lot.
Kom dit op
die ou end uit dat daar ‘n gaatjie in die sinkmuur is wat net mooi op die tafel
se hoek val. En as die bobbejaan bo op
die paal op sy platform sit kan hy net mooi mik en sien wat daar aangaan! Slim Kees.
En natuurlik
kan dit toe nou nie hoër of laer nie, die bobbejaan moet genees word van die
verslawing. Deur hom ‘n moerse skottel
koffie op een slag te gee. Met brandewyn
in. Want dit gaan mos werk.
Die affêre
was hoogs vermaaklik met die bobbejaan wat naderhand op die sy lê en drink en
later op die ander sy lê en drink, want hy kannie meer regop kom nie en die
pens is naderhand rond gesuip, maar Kees se kind het nie opgehou voor die
skottel nie leeg was nie.
Volgende
oggend toe ouma eerste ding koffie maak, toe skreeu die bobbejaan dadelik vir
sy porsie koffie. Genees niks
Foto van Ouma Grieta wie se sin vir humor my altyd sal bybly
Saterdag 21 Januarie 2017
Kroeggeveg
Kroeg geveg
Ek geniet dit om mense se kommentaar op sosiale media te
lees. Dis vir my ‘n ander vorm van
“People watching”. Iets wat ek ook nog
altyd geniet. Die Here het ons so
wonderlik verskillend gemaak, maar partykeer sukkel ek ‘n bietjie om “die liefde
glo alles, hoop alles, bedek alles” te leef.
Die lewe is redelik wit of swart vir my.
So dan moet ek harder werk om die verskille te waardeer. Ek snap nie altyd mense se motiverings om
stupid goed aan te vang nie. Dan rol ek
my oë in die stillegeit of skinder by my ma of kinders oor die wildvreemdeling
wat stupid goed aan vang. Ek het ook ‘n
vriendin of twee by wie ek oor ‘n glas wyn kan afpak. Dan lag ons lekker of werk onsself bietjie op
oor mense wat ons nooit sal ontmoet nie.
Maar die een ding wat ek gladnie kan kleinkry nie, is ander
wildvreemde mense se behoefte om op sosiale media te gaan afpak oor wat hulle
as stupid goed beskou. In die
verskriklikste taal. Natuurlik onder ‘n
skuilnaam. Verskeur ‘n mens wat hulle
nooit sal ontmoet nie op ‘n manier wat hulle nooit in persoon sou doen nie.
In my gedagtes sien ek net ‘n klomp dronk mense in ‘n kroeg
op payday. Besig om mekaar aan die hare
rond te ruk en warm te klap.
En partykeer dink ek vir ‘n oomblik om ook kommentaar te gee
op die gesuipte een se kommentaar.
In my
ouma se stem.
“Jou onderrok hang uit,
skat”.
Sondag 08 Januarie 2017
Beurt Bestuur
Ek het effens laat in my lewe leer bestuur. Eerstens omdat my ma nie vir my kans gesien het nie en andersins omdat my destydse boyfriend nie opgewasse was teen my nie. Eks bietjie cheeky. En miskien bietjie obsternaat.
Toe dink 'n slim vrou (is ek seker) eendag die idee uit van bestuursskole. Toe kom ek reg. Kry liksens en als. Want die laaitie van die bestuurskool word betaal om vriendelik en geduldig te wees. So ek het nie nodig gehad om in die middel van die highway van die pad af te trek en die senuwee agtige, kritiese siel in die passasier sitplek in te lig dat hy sy eie bleddie kar kan bestuur nie.
Ek is eintlik mal daaroor om te bestuur. Want dan is ek in beheer en in ons gesin is die reel dat die bestuurder ook oor die musiek kan besluit. Want mens moet konsentreer as jy bestuur en simpel musiek trek jou aandag af.
Hoe langer die pad hoe lekkerder ry ek. Namibia is ideaal.
Self Pretoria se stadsverkeer verdra ek ter wille van die plesier van bestuurder wees. Wel verdra is dalk 'n nie streng gesproke waar nie, maar dis 'n blog vir 'n ander dag.
Dag en datum wat my bloedjies sestien geword het, het ek begin om hulle te leer bestuur. Altwee het in die maand wat hul agtien geword het, hulle lisensie gekry met die eerste probeerslag. Ek is heimlik vreeslik trots op myself, maar vertel natuurlik vir hulle hoe oulik hulle is.
Aangesien jongste op universiteit na skool besluit het, het ek haar ook dadelik en gereeld in Pretoria se verkeer ingevat. Laat ek jou nou vertel dit was baie braaf van my. As jy eers 'n cheeky, obsternaat, agtienjarige deur stadsverkeer kon bestuur, kan jy 'n leeu kaalhand aanvat en sonder 'n skrapie daar wegstap. Ek het liters gesweet in die proses.
Teen die tyd dat sy negentien was het ek haar meisiekind alleen van Harties na Bela Bela laat ry om vir ouma te gaan haal. Heimlik biddend, maar ek wil my meisiekind net so braaf en onafhanklik he soos my oudste.
Enigste probleem is nou dat ons altwee wil bestuur. Elke keer. En die feit dat sy meestal my kar leen help nie my saak nie. So deesdae het ons herhaaldelik dieselfde gesprek. Sy wil bestuur asb en ek wil asb self my kar bestuur. Boonop is ons identiese passasiers. Sy ry te naby aan die rand en beskuldig my van dieselfde. Sy ry te vinnig na my sin en beskuldig my dat ek my kar (let wel: MY KAR) te hoog laat ref.
Sy bly aan haal my radio stasie van Bosveld Stereo af en ek moan oor die volume van haar silly musiek.
Maar die toppunt is dat die klein twit vir my probeer vertel dat ek 'n senuweeagtige bestuurder is. Dis nou wragtig die toppunt van cheek. Ek bestuur al langer as wat sy asemhaal. En ek het haar leer bestuur. Ek het al meer kilometers afgele as wat sy kan optel, met stokou lendelam karre moes ry en swaar vragte gesleep in my lewe.
Dis nog steeds my beurt om te bestuur,dankie.
Saterdag 31 Desember 2016
Die mal haas
Nadat ek Jongste streng verbied het om 'n nuwe kat aan te skaf het sy my slim omseil. Deur 'n nuwe haas te kry.
Ek verstaan nou die uitdrukking "so mal soos 'n haas" nadat ek die swart snoesige gedoentetjie moes oppas deur die feesseisoen.
Natuurlik.
Jongste hou vakansie.
By die see.
Klink ek dikbek?
Sorry hoor.
As jy enigsins bekend is met my of my blog weet jy ons is katmense. Erg.
So ek was baie benoud oor wat met haas gaan gebeur in 'n huis met twee katte. Want haas in 'n hok hou doen ek nie. Ek het min hang-ups, maar diere wat in hokke aangehou word is een van die min.
Ek was verniet benoud. Nia hol weg as die haas probeer maats maak, en soos die fotos wys, Picasso is min gespin. Dit het hom 'n week gevat om agter te kom hiers 'n vreemde ding in die huis. En noudat hy dit weet is hy soos in ingels "bemused"
Ek moet miskien net noem dat Picasso ons spesiale kat is. Ek sweer hy het ook 'n ekstra chromosoom.
Dis toe die Jack Russel wat ek moet dophou. Sy tril behoorlik van opwinding en hou die haas met groot spanning dop. Na 'n week van hond en haas uitmekaar hou, raak ek moeg vir die toe deure oral.
Ek besluit om als neer te sit, deure oop te maak en my volle aandag aan die hond te gee. Dalk kry ek my eintlik baie soet Jessica brak om maats te maak met die haas.
5 minute gevat.
Toe maak ek maar weer deure toe.
Want die hond is dalk beskaaf, maar die haas ....
Jongste het reggekry om die bleddie ding 'n huishaas te maak.
As die deur oopgaan hop hy in. Van kamer tot kamer en dis nie asof hy potty trained is nie.
En as ek hom vang en uitdra storm hy eers verwilder die grasperk vol, skop sy agterbene eers diekant toe en dan daaikant toe, (Fred Astairs se soort) en gaan kruip dan onder die stoepbank weg. Want soveel tuin is duidelik te veel vir huishaas.
Saterdag 24 Desember 2016
Annettie Sweetheart
As ons vir ewig lewe en ons tyd op aarde net kortstondig is, dan is jy klaar my suksesvolste kind. Want jy het klaar die wedloop voltooi. Jy het die eindpunt met groot spoed behaal. Jy het vandag , agt jaar gelede, die ewige lewe ge erf. Jy is nie dood nie. En ek het jou nie verloor nie. Ek weet presies waar jy is. Wel ek weet presies jy is in die hemel. Waar presies in die hemel kan ek net raai. Met jou eindlose energie en honger na avontuur, is ek seker jy trek al by 'n sterrestelsel wat ons nog niks van weet nie. En weet sommer soos net 'n ma kan weet, toe Saint Peter die hemel se poorte vir jou oopgesluit het, het die engel Gabriel byvoorbaat die agter hekkie vir jou oopgemaak en gevra: "Gaan speel buite asseblief" Buite in die grote hemelruim, want jou menswees sal te besig wees vir 'n hemel vol ou siele.
Dinsdag 29 November 2016
Werksonderhoude in die regte lewe
Die mensdom bly maar interresant. Afgelê en werkloos is ‘n onsekere plek vir
enige een. Om in jou laat veertigs te
wees maak dit bietjie erger.
Advertensie na advertensie vra blatant vir jonk.
“Jonk en energiek”
“Tussen 20 en 25 “
“Ambisieus en onder 30”
Met jare se ondervinding in wyd verspreide velde, maar sonder
enige bewysbare kwalifikasies, is mens genoodsaak om kreatief te dink.
Net nie te kreatief met die CV raak nie. Ek is kriewelrig vir lieg. Ek weet immers uit dure ondervinding as ek
sou waag lieg kom ek feitlik dadelik in die warm water. Dis my lot al uit my kinderdae.
As die gewraakte vraag:”Beskryf jouself” opduik in ‘n
onderhoud wens ek so ek kon sê”: “Maklik
om uit te vang.” Of meer volledig: “Moeilik
en puntenerig. Ek verpes ‘n baas wat
heeltyd oor my skouer loer, of ‘n kollega wat my probeer voorskryf, domineer,
afkraak of beskinder.” Of “Ek hoop nie hier werk enige katterige flerries nie. Ek het nie geduld daarmee nie.”
Gelukkig doen tydskrifte deesdae moeite om jou voor te berei
op onderhoude.
Trek netjies en profisioneel aan.
En sê dan wat vir die ouerige
tannie wat die onderhoud voer en so ewe laat hoor: “Ons is nie grênd hier nie
hoor.” Terwyl sy jou navy pakkie afkeurend
bekyk.
Maak oogkontak en bly vriendelik en kalm
Tot jy ondervra word deur ‘n
blatante rassis wat kort kort na jou (ordentlik bedekte) boesem loer.
Sit met jou voete netjies langs mekaar en
vou jou hande liggies in jou skoot.
Terwyl die enigste ander sitplek
‘n diep uitgesakte bank is en jy boonop ewe vriendelike en ongevraagd ‘n koppie
tee in die hand gestop is.
Dan skuif jy maar noodgedwonge
tot op die rand van die kontrêpsie, kap jou kniee saam en plant jou voete so
wyd uitgestrek as moontlik terwyl jy van bo beloer en ondervra word.
Die CV alleen het my
moedeloos. Elkeen het ‘n besliste opinie
van hoe dit moet lyk, die hoeveelheid detail, die voorblad en ‘n foto al dan
nie. Elke enkele opinie verskil van die
vorige. Ek is eenkeer “gehelp” deur ‘n kennis
wat daarop roem dat hy CV’s profesioneel opstel. Ek het myself nie herken nie. Ek het ook nie die “job description”
verstaan nie. Ek het nog nooit sulke
take verrig nie. Die kort profesionele
beskrywing wat my moes “saamvat” was tergelyketyd ‘n vae cliché en ‘n besliste
leuen. Dit was 7 bladsye lank. Ek is
nie belangrik of interesant genoeg vir 7 bladsye nie. Selfs nie as die eerste bladsy ‘n dekbrief
met ‘n foto van my is nie.
Vriende en kennise help graag en
gereeld. ‘n Sms of ‘n stukkie papier met ‘n nommer op word opreg aangebied. “So
en so soek iemand”
Dan bel jy maar getrou. Bietjie skaam en baie onseker met geen idee
wat presies so en so soek nie.
Eenkeer daal daar so ‘n laaang
stilte neer aan die ander kant van die foon. Ek “Hello? Hello?” nog toe kry die vroutjie haar stem en
val my in die rede met “Ek loop eers einde volgende week!” Eina!
Ek het gevra vir die bestuurder?
Nou kan ek nie help om te wonder nie.
Het sy dalk net gedreig om te loop en toe is haar wind uit haar seile
toe ‘n aplikant sommer bel? Sy was
beslis dat ek nie ‘n CV kan email nie, maar persoonlik in die dorp langsaan
moet kom aflewer. Ek kon tot nou toe nie
die plek kry nie. Al volg ek haar
instruksies noukeurig.
Na ‘n paar jaar in die mynbedryf
en gewoond aan ‘n ordentlike salaris verstom dit my want mense aanbied as
salaris. Ek dink my kruideniersware is
meer as R3000. Ek weet my huur is meer
as R6 000.
En terwyl jou spaargeld krimp en
die UIF sloer slaan die benoudheid so elke nou en dan toe. Uiteindelik word jy weer vir ‘n onderhoud
genooi.
Die eienaar van ‘n eenmansaak
waarsku vooraf streng dat hy net twintig minute het om af te staan aan ‘ n
onderhoud. Op die ou end rek dit uit na
meer as ‘n uur. Die man gesels wyd en
baie. Hy vra meeste van die vrae waarop
die tydskriffte jou so mooi voorberei, maar gelukkig hoef ek niks te sê
nie. Hy val dadelik in en gee sy eie
antwoord. Ek weet presies wat sy geloofsooortuiging is (ek sit hom in die
stillligheid op my gebedslysie), sy politieke oortuiging (ai tog), sy opinie
van ons land se leiers (ek wens ek kon verdedig, maar stem ongelukkig en net
innerlik saam).
Dan sluit hy af met die
gewraakte “Beskryf jouself” “En ek soek nie jou naam, ouderdom, kwalifikasies
en ondervinding nie. Wie is jy??”
Met my hele ordentilke
toesprakie daarmee heen huiwer ek gelukkig ‘n breukdeel van ‘n sekonde te lank
en hy val dadelik in:”Ek is …’n perfeksionis, bla bla, vrygewig, bla bla,
hardwerkend, bla bla, en vuurwarm tussen die lakens.”
Hoesê??
Ek is vir die eerste keer in my ganse bestaan
van amper vyftig jaar stom geslaan. Stomgeslaan!
Gelukkig daardie werk ook nie
gekry nie.
Dit gaan dalk rof, maar boetie,
die lewe is ‘n interresante plek.
Tyd om vandag se koerant te gaan optel.
Teken in op:
Plasings (Atom)