Die mensdom bly maar interresant. Afgelê en werkloos is ‘n onsekere plek vir
enige een. Om in jou laat veertigs te
wees maak dit bietjie erger.
Advertensie na advertensie vra blatant vir jonk.
“Jonk en energiek”
“Tussen 20 en 25 “
“Ambisieus en onder 30”
Met jare se ondervinding in wyd verspreide velde, maar sonder
enige bewysbare kwalifikasies, is mens genoodsaak om kreatief te dink.
Net nie te kreatief met die CV raak nie. Ek is kriewelrig vir lieg. Ek weet immers uit dure ondervinding as ek
sou waag lieg kom ek feitlik dadelik in die warm water. Dis my lot al uit my kinderdae.
As die gewraakte vraag:”Beskryf jouself” opduik in ‘n
onderhoud wens ek so ek kon sê”: “Maklik
om uit te vang.” Of meer volledig: “Moeilik
en puntenerig. Ek verpes ‘n baas wat
heeltyd oor my skouer loer, of ‘n kollega wat my probeer voorskryf, domineer,
afkraak of beskinder.” Of “Ek hoop nie hier werk enige katterige flerries nie. Ek het nie geduld daarmee nie.”
Gelukkig doen tydskrifte deesdae moeite om jou voor te berei
op onderhoude.
Trek netjies en profisioneel aan.
En sê dan wat vir die ouerige
tannie wat die onderhoud voer en so ewe laat hoor: “Ons is nie grênd hier nie
hoor.” Terwyl sy jou navy pakkie afkeurend
bekyk.
Maak oogkontak en bly vriendelik en kalm
Tot jy ondervra word deur ‘n
blatante rassis wat kort kort na jou (ordentlik bedekte) boesem loer.
Sit met jou voete netjies langs mekaar en
vou jou hande liggies in jou skoot.
Terwyl die enigste ander sitplek
‘n diep uitgesakte bank is en jy boonop ewe vriendelike en ongevraagd ‘n koppie
tee in die hand gestop is.
Dan skuif jy maar noodgedwonge
tot op die rand van die kontrêpsie, kap jou kniee saam en plant jou voete so
wyd uitgestrek as moontlik terwyl jy van bo beloer en ondervra word.
Die CV alleen het my
moedeloos. Elkeen het ‘n besliste opinie
van hoe dit moet lyk, die hoeveelheid detail, die voorblad en ‘n foto al dan
nie. Elke enkele opinie verskil van die
vorige. Ek is eenkeer “gehelp” deur ‘n kennis
wat daarop roem dat hy CV’s profesioneel opstel. Ek het myself nie herken nie. Ek het ook nie die “job description”
verstaan nie. Ek het nog nooit sulke
take verrig nie. Die kort profesionele
beskrywing wat my moes “saamvat” was tergelyketyd ‘n vae cliché en ‘n besliste
leuen. Dit was 7 bladsye lank. Ek is
nie belangrik of interesant genoeg vir 7 bladsye nie. Selfs nie as die eerste bladsy ‘n dekbrief
met ‘n foto van my is nie.
Vriende en kennise help graag en
gereeld. ‘n Sms of ‘n stukkie papier met ‘n nommer op word opreg aangebied. “So
en so soek iemand”
Dan bel jy maar getrou. Bietjie skaam en baie onseker met geen idee
wat presies so en so soek nie.
Eenkeer daal daar so ‘n laaang
stilte neer aan die ander kant van die foon. Ek “Hello? Hello?” nog toe kry die vroutjie haar stem en
val my in die rede met “Ek loop eers einde volgende week!” Eina!
Ek het gevra vir die bestuurder?
Nou kan ek nie help om te wonder nie.
Het sy dalk net gedreig om te loop en toe is haar wind uit haar seile
toe ‘n aplikant sommer bel? Sy was
beslis dat ek nie ‘n CV kan email nie, maar persoonlik in die dorp langsaan
moet kom aflewer. Ek kon tot nou toe nie
die plek kry nie. Al volg ek haar
instruksies noukeurig.
Na ‘n paar jaar in die mynbedryf
en gewoond aan ‘n ordentlike salaris verstom dit my want mense aanbied as
salaris. Ek dink my kruideniersware is
meer as R3000. Ek weet my huur is meer
as R6 000.
En terwyl jou spaargeld krimp en
die UIF sloer slaan die benoudheid so elke nou en dan toe. Uiteindelik word jy weer vir ‘n onderhoud
genooi.
Die eienaar van ‘n eenmansaak
waarsku vooraf streng dat hy net twintig minute het om af te staan aan ‘ n
onderhoud. Op die ou end rek dit uit na
meer as ‘n uur. Die man gesels wyd en
baie. Hy vra meeste van die vrae waarop
die tydskriffte jou so mooi voorberei, maar gelukkig hoef ek niks te sê
nie. Hy val dadelik in en gee sy eie
antwoord. Ek weet presies wat sy geloofsooortuiging is (ek sit hom in die
stillligheid op my gebedslysie), sy politieke oortuiging (ai tog), sy opinie
van ons land se leiers (ek wens ek kon verdedig, maar stem ongelukkig en net
innerlik saam).
Dan sluit hy af met die
gewraakte “Beskryf jouself” “En ek soek nie jou naam, ouderdom, kwalifikasies
en ondervinding nie. Wie is jy??”
Met my hele ordentilke
toesprakie daarmee heen huiwer ek gelukkig ‘n breukdeel van ‘n sekonde te lank
en hy val dadelik in:”Ek is …’n perfeksionis, bla bla, vrygewig, bla bla,
hardwerkend, bla bla, en vuurwarm tussen die lakens.”
Hoesê??
Ek is vir die eerste keer in my ganse bestaan
van amper vyftig jaar stom geslaan. Stomgeslaan!
Gelukkig daardie werk ook nie
gekry nie.
Dit gaan dalk rof, maar boetie,
die lewe is ‘n interresante plek.
Briljant geskryf, Marieta.
AntwoordVee uit