My pa het in die destydse Suid Wes skelm gejag. Op reservate waar niemand mag jag nie. Hy was nie die enigste een nie. Daai tyd was dit soos om te weier om e toll
te betaal in hierdie tyd is. Ek is
duidelik my pa se kind. Al het ek nog
nooit gejag nie. My pa was ‘n besonderse
mens, maar hy het wel 2 swak plekkies gehad.
Nee, nie skelm jag nie.
Hy kon
verskriklik skrik as iemand skielik agter hom praat of aan hom vat. Dan het hy lank en onderhoudend in tale
gepraat. Die soort tale wat in Deon
Meyer se boeke verskyn as sy Bennie Griessel karakter aan die woord is. Dis nou as jy ‘n Deon Meyer boek by ‘n
vriendin geleen kry, want as jy dit by die stadsbiblioteek uitneem het een of
ander vroom tannie die boek met ‘n swart koukie aangeval en dan moet jy raai
hoe kleurryk Bennie Griessel vloek. Maar
my pa was ‘n SuidWester gebore en getoë.
Hy kon Bennie Griessel na ‘n laerskoolkind laat klink as hy die dag
geskrik het.
My pa se ander swak plekkie was dat hy maklik naar geraak
het. Vir enige iets wat fishy lyk. Of kakkerig ruik. Of as iemand daai nare brulbraak geluid maak
wat waarsku dat opgooi naby is. En as
aldrie gelyk gebeur het was my liewe pa hulpeloos.
Toe maak hy eendag die groot fout om saammet ‘n pel te gaan
jag wat swakheid nommer twee in gemeen met hom het. Die jag self was heel suksesvol daar in die
klip woestyn van Brandberg Wes se wêreld.
Maar terug by die huis toe loop die storie dat die polisie oppad is vir
hul maandlikse draai om te kyk of als nog wettiglik verloop. En die 4 vriende besluit om maar vir die wis
en die onwis van die evidence te gaan ontslae raak. Want my pa-hulle het gejag vir vleis vir hul
gesinne. Die vel met die kop, pootjies
en binnegoed is afgeslag en in die veld gelos vir die aasdiere.
Die moeilikheid vir my pa en sy mede sensitiewe pêl het daar
begin. Want in die woestyn hitte die
paar dae later is die binnegoed al lekker ryp.
Nou moet elkeen ‘n punt vat en loop, want hulle wil die evidence by ‘n
krans gaan afgooi waar ‘n poliesman nooit sal kom nie. Maar my pa is mal naar vir die
spulletjie. En sy maat netsoveel. En dan maak my pa daai brulbraak geluid en dan
skiet die pêl katte. En dan is dit my pa
se beurt oor die geluid van opgooi net te veel vir hom is. En so het die twee brullend vir mekaar op die
ou end die gemsbokvel en binnegoed oor ‘n krans gekry.
Ek dink nie my pa het gou weer saammet die ou gaan jag nie.
Dit was nou ñ lekker storie om te lees. Jy het goeie herinneringe, Mariet.
AntwoordVee uitDit was nou ñ lekker storie om te lees. Jy het goeie herinneringe, Mariet.
AntwoordVee uit