Hierdie was ‘n weggooi maand.
Werk was skaars, so tyd was baie, maar my verskonings was meer.
So het ek hierdie maand omgedroom en omgedink. Laat geslaap, tv gekyk en gelees.
En elke keer as ek myself probeer oortuig om net iets nuttig te doen, het ek misluk.
Dit was nie lekker nie.
Ek het nie ontspan nie. Geen
briljante idee het posgevat nie. Dit was
net niks. En leeg. En vervelig.
As ek as kind sou waag om vir my ma te sê ek is vervelig was
die vet in die vuur. Want ek is
verveeld. Nie vervelig nie. En as ek
iets soek om te doen moet ek net sê. Wat
genoeg van ‘n dreigement was om my onmiddellik aan iets te laat dink om te
doen. En dit dan dadelik te gaan doen
voor my rooikop ma nog ‘n woord kan uitkry.
Want ek het in elk geval as kind elke vakansie wakker geword met ‘n
lysie op die toilet. Ons het ons
vakansies omgeskop en geskuur. Teen die
tyd wat skool weer begin het (Dankie tog!!) was die potte se bodems weer blink geskuur en al die kaste uitgepak,
met koerant uitgevoer en weer netjies gepak.
Die vensters het geblink en al die gordyne was af, gewas en weer
opgehang. As jou lysie vir die dag
afgehandel was, kon jy gaan speel.
Buite. Ek het nie tv of radio
geken nie. Ons kinders het onself op
straat met die bure se kinders vermaak.
Fiets gery, boom geklim en onself nerdos geval met rolskaatse (wat 4
wieletjies aangehad het).
Maar nou is ek ‘n grootmens en daar is nie meer lysies
nie. En ek is nie lus nie. Die motivering om myself te motiveer
ontbreek. Einde van die jaar gatvol lê
die huis vol en niemand wil dit optel nie.
Ek ook nie.
Die wrede waarheid is as jy ‘n grootmens is moet jy self jou
wiele pomp wanneer dit pap geword het.
Maar vandag is reeds driekwart klaar. Ek sal more.
Hoe sê die jongmense nou weer in baster engels? “I don’t want to adult”
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking