Maandag 14 November 2016

Paddas vang

Hi there.
Ons kuier vir ‘n paar uur sondag saammet klein kindertjies van vriende.  Ek verwonder my weer aan hul onophoudelike energie en vreugde in die lewe.  Die nuuskierigheid en vrye gees.
Driekwart deur die dag se kuier in die botaniese tuine besef seuntjie se ma dat hy onderklere geskip het vir die dag.  Min gepla.  Ons skud ons koppe en lag net.  Wens ons kon so min omgee wat konvensie van ons verwag.
Maar eintlik is hierdie ‘n padda storie.  Die 5jarige seunskind dring daarop aan om ‘n boks (groot) saam te bring vir die dag se piekniek.   Want sien, hy gaan paddas vang.  Die vrouens keer almal byvoorbaat by die huis al.  Die boks gaan nie saam nie.  Maar seuntjie hou net kalm by sy storie.  Gebreide padda hoed op die kop in die Suid Afrikaanse somer en moerse boks in die arms.  My seunskind moedig geesdriftig aan.  “Ja, bring die boks”  En vir ons vrouens “Los hom uit.  Hy is ‘n seunskind”
So gaan die boks op die ou end wragtig saam in die kleine karretjie.  Ousus is net baie beslis dat sy nie die boks op haar skoot gaan saamry nie.
Daar aangekom probeer Oulik dadelik die naaste blond in die geselskap oorreed om sy boks te dra.  Geen sukses.  “Dis jou boks wat jy wou bring.  Jy dra dit.”
Toe tannie weer sien, toe dra my seunskind ewe die boks vir die kleintjie.  Mans kan darem so saamstaan weet jy. 
Maar dis toe nie so maklik om paddas te vang nie.  Die klomp is naderhand nat en geskraap en toe daar uiteindelik ‘n padda in die boks is, toe gee die nou al nat bodem mee en padda ontsnap.
Seuntjie is erg ontsteld.  Mamma troos baie simpatiek, maar die mansmense is meer filosofies.
“Jy sal nog leer,  dis nooit maklik om ‘n padda te vang nie”
“En net mooi as jy dink jy het, dan ontsnap hulle”
“En as jy nou die padda wel gevang het, begin die groot probleem eintlik.  Want dan moet jy die padda kosgee”
En terwyl die mans vir mekaar grinnik vir hul eie slimgeid, skud ons vroumense net ons kop.
  Ons het dan gesê los die boks by die huis…..

2 opmerkings: