Ek is deesdae klaar grootgemaak aan my kinders en hulle is
nou al oud genoeg om hul kinderlewe in nabetragting te beskou. Dis nie ‘n deel van ouerskap wat ek vreeslik
geniet nie. Meestal gaan die gesins
staaltjie oor hoe kwaai ek was. Let op
die was. Nou bang hulle my niks meer
nie.
Ek kan nou nog my kalm, volwasse oudste op sy perdjie laat
spring as ek die 2 woordjies sê: “Haar
kant.”
Sien, ek het ‘n moerse hang-up oor boelie. So ek het my voorgeneem dat geen kind van my ‘n
ander kind van my sal boelie nie. Nooit ooit nie.
So werk dit dan uit dat my oudste ‘n seunskind is en ook die
enigste mansmens in die huis. Soos
meeste seuns is sy energie vlakke en aggresie effens hoër as die meisiekinders s’n
wat weer sterker staan op kommunikasie (lees klik).
So as hy bietjie hardhandig begin speel, dan skreeu die
betrokke sussie dadelik “Maaaaa!” En ma is dadelik op en paraat. Dan kalmeer ek eers die twee en vra
onpartydig elkeen se storie. En kom dan
feitlik altyd tot die gevolgtrekking dat seunskind bietjie hardhandig met sy
sussie was en die spelery moet kalmeer of endkry.
Een goeie dag bars die tiener ewe hardegat uit: “Ma vat altyd
hulle kant. Ma maak net of Ma na my
luister. Hoekom sê Ma nie net ‘Haar kant’
en kry klaar nie?”
En toe doen ek dit.
Elke keer.
Vir maande en maande.
Ek en die dogters het gedink dis vreeslik snaaks.
Oudste glad nie. Nou
nog nie. Soos ek sê. As ek hom gewip wil sien hoef ek tot vandag
toe nog net daardie 2 woorde te sê.
En nou dat ek kant en klaar grootgemaak het en niks kan
verander aan die verlede nie, kry ek hom bietjie jammer. Dit was seker partykeer bietjie opdraande met
sy kwaai ma en sy twee klikbek sussies.