Laurika
Rauch sing so mooi: “ Kom ons skink ‘n rooi glasie wyn en gee ons oor aan die
nostalgie.”, maar so lief as wat ek vir haar stem en musiek is, ek loop nie
graag of dikwels op ou paaie nie.
Daarvoor is vandag te interresant en more kort beplanning.
Maar so waai my niggie op ‘n sondagmiddag by
my in (ons is dieselfde jaar se kallers)
en ons gesels die ure om. Oor ons
kinders (grootmense al self) oor skete en pyne (ai tog) en oor ons viervoet liefdes. Ons altwee moes onlangs ‘n oudste laat gaan en
ons is nog altwee tjankerig van verlang.
Teen die tyd
dat sy moet ry druk en soen ons koebaai en ek bly staan en waai soos ons mense
mos maar maak. En in die skielike stilte
van die huis kom sak die nostalgie op my neer.
Ek is weer neutbruingebrand, kaalvoet en luidrigtige kind in warm
Suid-Wes. Voluit aan die ronkhol in
vryheid wat net ‘n kind ken. Dosyne neefs en niggies, plaasdamme en streng
stilte op sondaemiddae. Die enigste
dorings in ons lewens is die duwweltjies wat eintlik amper nie vatplek kry aan
ons leergelooide voetsole nie.
En ek
waardeer so bietjie die mense wat ons is
oor die grootword wat ons gegun is.
Innerlik
eintlik steeds bruingebrand, vry en gebrei om die dorings te kan uitpluk en aan
te hol.
Mooi ry my
nig. Stuur groete aan die ooms op hul
plase.
My vriendin met die woestynkind hart.xx
AntwoordVee uitMy vriendin met die woestynkind hart.xx
AntwoordVee uitAg Marieta, dit was so lekker gewees. Ons doen dit beslis sommer gou weer.!
AntwoordVee uit