Maandag 17 Oktober 2016

Namibia 2009



 
 
Dit was met een woord 'n avontuur.
Met twee tieners en my 70 jarige ma in 'n 14honderd mazda kon dit ook nie anders nie. Namibia is nog mooier as wat ek onthou en die afstande nog niks nader nie. Maar wie wens die pad korter as jy deur so mooi land ry en wild vrylik langs die pad voorkom?  Die dag se verdwaal deur Damaraland se grondpaaie het die kar sy exhaust en briekpen gekos, maar ons het heerlik fotos van al die koppies geneem en in Ondaura onder 'n laag rooi stof kom stop.

My kinders is klaar ingelig dat die eerste een wat 'n miljoen verdien, 'n vakansiehuis op Henties moet koop. Anders misbruik ons vir Neels en dit wil ons nie doen nie. Waar kry mens 'n beter gids deur grensposte en ander navigasies. Die water is dalk yskoud, maar die robbe wat saam kuier ongeken en niks is mooier as die son wat sak oor die oseaan nie.

Swem in 'n plaasdam lyk ook anders daardie kant. Eerstens bring jy 'n bakkie met 'n boombox en 'n cooler vol drinkgoed. Dan klim die klomp niggies en nefies met cowboy hoede en sonbrille tussen die mos en waterhondjies in en val mekaar met waartelmoene, balle en kaal hande aan. Twee dae later kom jy eers agter dat die waterhondjies eintlik gewen het as jou lyf soos 'n maselaanval lyk en jy nie kan ophou krap nie. Ten minste lyk ek beter as al die klomp rooikoppe wat die "glare the sun down" kompetisie loshande verloor het. 


Die dag in Ethosha met net my kinders en die donderstorms op die horison van die spierwitkalkland was balm vir my siel. Daar is nie 'n mooier bok as 'n gemsbok nie en olifante sal altyd my hart se punt wees, maar as jy 4 leeus langs die pad kry wat jou stip in die oe kyk, weet jy, jy bly in Afrika.

Botswane se lang lang pad met geen potholes in sig nie, was 'n belewenis van honderde donkies, talle perde en meer beeste en bokke as wat ek kon tel.

Die hondsdolheid kudukoei was nie lekker nie en die yslike geel skerpioen onder ons tent was nie welkom nie, maar ten minste weet ek nou Christopher kan 'n wiel omruil en het ek altwee my lees sku kinders aan die lees gekry.

Volgende keer vat ek minder koekies en meer water saam. Volgende keer mag Christopher meer bestuur. Volgende keer bly ek sommer 6 weke. Volgende keer klim ek ook duin 7. Volgende keer ..... 
 



1 opmerking:

  1. Mag 'volgende keer' om die draai wees, Marieta. Jy maak my ook weer lus vir die duine.

    AntwoordVee uit