Maandag 31 Oktober 2016

Haar kant



Ek is deesdae klaar grootgemaak aan my kinders en hulle is nou al oud genoeg om hul kinderlewe in nabetragting te beskou.  Dis nie ‘n deel van ouerskap wat ek vreeslik geniet nie.  Meestal gaan die gesins staaltjie oor hoe kwaai ek was.  Let op die was.  Nou bang hulle my niks meer nie. 
Ek kan nou nog my kalm, volwasse oudste op sy perdjie laat spring as ek die 2 woordjies sê:  “Haar kant.”
Sien, ek het ‘n moerse hang-up oor boelie.  So ek het my voorgeneem dat geen kind van my ‘n ander kind van my sal boelie nie. Nooit ooit nie. 
So werk dit dan uit dat my oudste ‘n seunskind is en ook die enigste mansmens in die huis.  Soos meeste seuns is sy energie vlakke en aggresie effens hoër as die meisiekinders s’n wat weer sterker staan op kommunikasie (lees klik).
So as hy bietjie hardhandig begin speel, dan skreeu die betrokke sussie dadelik “Maaaaa!” En ma is dadelik op en paraat.  Dan kalmeer ek eers die twee en vra onpartydig elkeen se storie.  En kom dan feitlik altyd tot die gevolgtrekking dat seunskind bietjie hardhandig met sy sussie was en die spelery moet kalmeer of endkry.
Een goeie dag bars die tiener ewe hardegat uit: “Ma vat altyd hulle kant.  Ma maak net of Ma na my luister.  Hoekom sê Ma nie net ‘Haar kant’ en kry klaar nie?”
En toe doen ek dit.
Elke keer.
Vir maande en maande.
Ek en die dogters het gedink dis vreeslik snaaks.
Oudste glad nie.  Nou nog nie.  Soos ek sê.  As ek hom gewip wil sien hoef ek tot vandag toe nog net daardie 2 woorde te sê.
En nou dat ek kant en klaar grootgemaak het en niks kan verander aan die verlede nie, kry ek hom bietjie jammer.  Dit was seker partykeer bietjie opdraande met sy kwaai ma en sy twee klikbek sussies.

2 opmerkings:

  1. Gelukkig was die bydrae om van hom 'n pragtige seun met 'n opregte hart te maak. En vandag weet hy hoe om 'n dame soos 'n dame te behandel

    AntwoordVee uit