Vrydag 28 Oktober 2016

Kat manipulasies



Displaying IMG-20161027-WA0011.jpgDisplaying 2016-10-28 15.29.52.jpg

So breek die hartseer dag aan wat ons ons geliefde prinses moet laat gaan.  Die ou lady is oud en seer en kannie meer ordentlik eet nie.  Ons huil vooraf en neem afskeid.  Ons tjank onbeskaam gedurende en treur vir weke daarna.  Elke keer as ons seunskindkat na haar loop en soek, loop die trane weer.
Ek begin ook lank voor die tyd waarsku.  ‘Moet asb nie dat iemand jou met ‘n ander kat troos nie.  Jy is ‘n student.  Ek gaan nie nog ‘n dier van jou grootmaak en versorg nie.'
‘Nee’  stem sy saam.  Ek is vreeslik verlig en heimlik trots op haar volwasse houding.
Ag dit was nie ‘n maand nie!!!  Kom die fototjie van die cuteste babakat op whatsup.
Ek sê dadelik en beslis ‘neeee.’  Lewer geen kommentaar op die dierbare ou dingetjie nie.
Dit help niks.  Sy bly aan smeek en boelie sjarmant. 
Ek sleep naderhand vir seunskind in.  Hy begin dadelik sy eie kat voortrek in die rusie.   Heeltemal verkeerde aanslag.  Nou stry my kosbare nageslag oor wie se kat die alpha in die huishouding is en my besliste ‘nee’ verdwyn tussen emoi prentjies van katte met hartjies vir ogies.
Ek sê nee op all die maniere wat die foon my toelaat.  Getik, met prentjies en met voice notes. 
“As jy nee stadig sê klink dit soos ja”  probeer my jongste my koudsit.
Nou sit ek hier en blog… doodbenoud sy bring die bleddie ding huis toe.  Want sy ken my so goed as wat ek myself ken.  As ek eers my hande op die bondeltjie het en my neus in daai snoesige pels gesteek het is dit verby met Kees.  Dan soek ek kliphard saam na name en neem ‘ n honderd fotos  van die simpel kat.
Dis immers presies soos ek 14 jaar gelede ‘n sekere vlooi bedekte bleddie prinses in my hart toegelaat het, want hoe sê jy nou nee vir ‘n graad eentjie op haar verjaarsdag nogal?
Maar nou is sy feitlik 21 en ek sal liewer nie hierdie publiseer voor ek nie die geveg gewen het nie.  Sy het op hierdie aarde GEEN amunisie nodig nie.


Displaying IMG-20160724-WA0000.jpg

1 opmerking:

  1. Ek moet saamstem, daar is darem maar niks ouliker as 'n baba katjie nie, hoe se 'n mens nou nee vir daai gesiggie

    AntwoordVee uit