Sondag 09 Oktober 2016

Nostalgie



Laurika Rauch sing so mooi: “ Kom ons skink ‘n rooi glasie wyn en gee ons oor aan die nostalgie.”, maar so lief as wat ek vir haar stem en musiek is, ek loop nie graag of dikwels op ou paaie nie.  Daarvoor is vandag te interresant en more kort beplanning.  
 Maar so waai my niggie op ‘n sondagmiddag by my in (ons is dieselfde jaar se kallers)  en ons gesels die ure om.  Oor ons kinders (grootmense al self) oor skete en pyne (ai tog)  en oor ons viervoet liefdes.  Ons altwee moes onlangs ‘n oudste laat gaan en ons is nog altwee tjankerig van verlang. 

Teen die tyd dat sy moet ry druk en soen ons koebaai en ek bly staan en waai soos ons mense mos maar maak.  En in die skielike stilte van die huis kom sak die nostalgie op my neer.  Ek is weer neutbruingebrand, kaalvoet en luidrigtige kind in warm Suid-Wes.  Voluit aan die ronkhol in vryheid wat net ‘n kind ken. Dosyne neefs en niggies, plaasdamme en streng stilte op sondaemiddae.   Die enigste dorings in ons lewens is die duwweltjies wat eintlik amper nie vatplek kry aan ons leergelooide voetsole nie.

En ek waardeer so bietjie die mense wat ons is  oor die grootword wat ons gegun is. 

Innerlik eintlik steeds bruingebrand, vry en gebrei om die dorings te kan uitpluk en aan te hol.

Mooi ry my nig.  Stuur groete aan die ooms op hul plase.

3 opmerkings:

  1. My vriendin met die woestynkind hart.xx

    AntwoordVee uit
  2. My vriendin met die woestynkind hart.xx

    AntwoordVee uit
  3. Ag Marieta, dit was so lekker gewees. Ons doen dit beslis sommer gou weer.!

    AntwoordVee uit