Donderdag 13 Oktober 2016

Vreemde Karre



Ek ry nou die dag met my kind se kar om hom by die lughawe af  te laai.  Oppad terug gaan die brandstof tank  se liggie aan.  Maar sy fênsie kar vertel jou tot op die kilometer hoe ver jy nog kan ry met die brandstof in die tank.  Tot die syfertjie skielik in drie stippel lyntjies verander.
Toe panic ek bietjie.  Want dis donker en dis Suid Afrika en niemand wil sonder petrol gaan staan nie.  Dis blykbaar die toppunt van onnosel.
Toe ry ek by die eerste petrolstasie wat ek sien in.  Net om te besef dat ek op een of ander manier sonder my beursie gery het.  So behalwe dat ek bid daars nie ‘n speedcop op my pad huis toe nie, (my liksens is in my beursie)  is ek ook aangewese op die coins in die kar.  Gelukkig is dit teen my kind se geloofsoortuiging om ooit sy coins te gebruik.  Dis moeite.  Hy doen net moeite as dit saakmaak.  Coins maak nie saak nie.
So moet die petroljoggie geduldig wag terwyl ek coins tel.  Tot ek uiteindelik op ‘n totaal afkom en die transaksie kan begin.  Maar nou is my kind op die vliegtuig en ek weet nie watter soort brandstof sy fênsie kar drink nie.  Toe raai ek en die petroljoggie maar.  Ek bid ons is reg.  Hy hoop ek maak die tank se dekseltjie dingetjie oop sonder om gevra te word.  Sy hoop beskaam.  Toe vra hy maar.  Ek vra opreg onverskoning en maak vining die boot oop.  Toe moet hy maar weer vra.  Nou regtig al heel verward maak ek weer die boot oop.  Toe moet hy maar weer vra.  Toe klim ek maar uit die kar, hurk en kyk presies watter een van die twee levertjies by my voete maak die tank oop.
Uiteindelik sukses.   Met ‘n volle vyftig rand se petrol vat ek weer die pad.  Ek wens net ek het oogkontak met die petroljoggie kon vermy toe ek ‘n hoop munte in sy hand omgekeer het.  Blykbaar is dit  die toppunt van onnosel.

1 opmerking: