Sondag 30 Oktober 2016

Die boerboel en die kraai



Image result for boerboel dogs
My pa het destyds toe ek nog bitter klein was, ons boerboel vasgemaak omdat hy erg kwaai vas.  ‘n Draad is gespan oor die erf en op twee punte in die grond geanker.  Die hond se ketting is dan aan die draad vasgemaak.  Die hond kon dus van ankerpunt tot ankerpunt loop, maar net ‘n paar tree weerskante van die draad.  Die paadjie is dan ook duidelik uitgeloop soos die hond sy entjie erf gepatroleer het.  Sy lêplek vas egter onder ‘n boom vir skaduwee en bietjie koelte, maar veel vrede het die arme hond nie gehad nie.  Die pyn in sy gat was ons kraai.  ‘n Swartkraai wat my pa as kuiken gered het.  Sy een vlerk was morsaf by die lid  gewees.   Pa het ‘n uil verdink.  Die kraai het meestal vrylik op die erf rongeloop en kwaadgedoen.  Die boerboel was een van sy slagoffers.  Die kraai het graag bosluise van die hond afgepik.  En dan die wondjie bly aan oop pik vir nog ‘n stukkie vleis.  En dan later die roof afgepik en so aan en so aan.  Die boerboel het dit nie geniet nie.  Dit was duidelik bleddie seer.  So as die kraai in sy omgewing kom rondloop het, was die hond dadelik agterdogtig.  Hy sou sy kop lig en die kraai lank dophou.  Maar kraai kyk anderkantoe en pik pik doodonskuldig in die stof rond.  Hond se ou groot kop raak naderhand swaar en sy agterdog kalmeer.  Dan lê hy weer plat met ‘n sug en slaap verder.  Dan wandel, wei die kraai al nader en nader.  En as die hond weer loer, dan kyk die kraai ver weg.  Die lyftaal duidelik.  “Ek is doodonskuldig.  Ek is net per ongeluk in jou nabyheid”  Tot die kraai in trefafstand was.  Dan het hy in een sprong op die hond gespring, gepik en in dieselfde beweging weggehop.  Presies aan die anderkant van die uitgetrapte paadjie wat die hond en sy bek nie kon bereik nie.  Want soos die kraai land, so is die hond op en kwaad en probeer die vabond byt, maar die ketting is te kort en die kraai net-net te ver.
En hierdie miniatuur drama het hom herhaaldelik afgespeel.  En elke keer kon die kraai die hond ‘n rat voor die oë draai.
Nou die dag lees ek hoe slim kraaie blykbaar is.  Die boerboel sou dit jare gelede al vir ons kon sê.
En as hy kon praat sou hy seker ook wou weet hoekom ons die kraai Satan gedoop het.

1 opmerking:

  1. Skitterende naam vir hom. Satan. Hy wat ons kort-kort ñ rat voor die oë draai.

    AntwoordVee uit