Woensdag 12 Oktober 2016

Middeljarig



Seker woorde het in onbruik verval.  Woorde soos oujongnooi en middeljare.   Dit is outyds en onvanpas is besluit.  Die slim mense het so ‘n bohaai opgeskop daaroor,  dat die res van ons maar opgehou het om dit te gebruik.
Nou gebruik ons maar ander woorde.
  “Hoekom jaag tannie se asem so?” (na een stel trappe)
“Nee jong,  bietjie onfiks.  Eks mos al feitlik vyftig”  Want duidelik help crossfit nie vir trappe klim nie.
“Ken Ma hierdie liedjie op die radio?”
“Nee my skat.  Ek het by Johnny Cash vasgehak”
“Watter language doen jou (universiteits ) kind in programering?”
“Nee ooooh!  Geen idee.  Jy moet weet ek het nog tik op skool gedoen”
Want ek facebook en blog dalk, maar ek is darem ook al verby die lente van my lewe.  Ek mag dit net nie middeljarig noem nie.  Nou verwys ek maar na myself as tannie as ek met jongmense praat.
Ek kyk na my liewe ma se foto’s toe sy my ouderdom was en onomgewonne geweet het waar sy inpas in die raamwerk van haar lewe.  Prontuit middeljarig dankie.
Moet erken ek kry haar bietjie jammer vir die verbeeldinglose rokkies wat sy moes dra.  Anders skinder die familie van haar soos van die tannie met die wonderlike blonde beehive wie se minis se lengte nou nog onthou word.  Ons sal maar net sê dat dit te kort was vir ‘n middeljarige tannie.
Eks dankbaar ek kan nog in ‘n jean en ‘n amper sexy toppie uitgaan sonder dat enige een ‘n oog knip.  Hoewel daar blykbaar perke is.  My seun in sy middel twintigs vra mooi dat ek asb die kniee moet wegpak as ek ‘n rokkie wat net bo die twee wit gedimpelde kniee eindig vir my kinders paradeer.  Maar ek dink dis eerder die ekstra kilogramme as die ouderdom.  Blykbaar werk crossfit ook nie vir vet kniee nie.  Ek moet glo minder stylsel en suiker eet.
 Maar dis ‘n heel ander blog onderwerp.



3 opmerkings:

  1. Jy lyk nog glad nie na aan jou middeljare nie, en die jeans sit nog baie sexy.

    AntwoordVee uit
    Antwoorde
    1. Baie dankie! en ek het spelfout opgespoor en reggemaak dankie.

      Vee uit
  2. Hierdie opmerking is deur 'n blogadministrateur verwyder.

    AntwoordVee uit